Geskiedenis van die kerk 1905 - 2005

Leraars van die gemeente Nieu Bethesda (Gestig 20 Nov. 1878)

Terug na NG Kerk

Tuisblad 

                                                                     Lidmaatgetalle

 

Ds HF Schoon                              06/1882 - 08/1883             200

Ds FS du Toit                           02/1886 - 09/1889             300

Ds AA Weich                                02/1890 – 02/1908             375

Ds RJB Feenstra                            04/1910 – 06/1921             270

Ds HL Webb                                11/1921 – 06/1927             276

Ds D Lategan                             05/1928 – 12/1930             277

Ds TI van Wyk                          05/1931 – 11/1945             190

Ds JD Strydom                             02/1946 – 05/1948             175

Ds JJ Hatting                              12/1948 – 03/1952             167

Ds C van N Pretorius                    07/1952 – 07/1957             163

Ds CR Serfontein                          06/1958 – 05/1961             135

Ds WC Malan                                     1962 – 1966                 101

Ds JHN Prinsloo                             06/1966 – 01/1967

Dr AR van Schalkwyk                  01/1967 – 1971                   61

Ds OA Cloete                                    1971 – 08/1977              55

Ds CW Burger – Konsulent               1978 – 1979                    48   

DS PW Moolman – Konsulent          11/1979 – 1980                 54

Ds JAC Scholtz – Emeritus            06/1980 -  10/1981             54

Ds D Fourie – Konsulent               1981                                 55

Ds WJ du Toit – Konsulent               1982                             57

Dr HW de Jager – Emeritus            05/1983 – 12/1984             56

Ds BP Fourie – Konsulent               1984                                  56

Ds SW Theart – Konsulent               1985                                  56

Prop. Bas Peters – tydelik                   

Prop. Marius Wolmarans – tydelik

Ds FJ vd Merwe – Konsulent               1986                         52

Samewerkingsooreenkoms met

Graaff-Reinet begin                      1986

Samewerkingsooreenkoms hernu       1989                     44

Ds JW Esterhuizen – Konsulent       1992                         42

Ds WPM van Niekerk – Konsulent       1993                        

Ds JA Conradie – Konsulent               1994                      41

Ds HL Venter – Konsulent               1995                         39

2000                                                                       41

 

Samewerkingsooreenkoms hernu       2001                         43

(Ds JW Esterhuizen / Ds JA Conradie –

Konsulente)

Slegs Pastorale bediening                2004                         44

Ds Leon Pienaar                               2005                        54

                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                  

 

Nieu Bethesda Gemeente 1905-2005

 

 

Hou Christus self sy Kerk in stand –

Vergeefs die hel se woede

As Here aan Gods regterhand Regeer Hy ons ten goede

Hy is in alle leed, steeds tot ons hulp gereed

Bewaak die Christendom, en waar die vyand kom,

Stuit Hy die bose woede.

 

O Christen wat op Hom vertrou

U moet geen onheil vrees nie.

Sal Hy wat sy gemeente bou,

Ons nie ‘n toevlug wees nie?

Hy, oor die toekoms Heer, waak oor sy woord en eer

Hy gee geduld in nood en krag en moed in dood

Moet geen bedreiging vrees nie.

 

                                                       Lied 477 (Liedboek van die Kerk)

 

*****

Tot in 1905 is kerkdienste waargeneem in die ou kerksaal.

Op 25 Augustus 1904 word deur die Nieu Bethesda kerkraad besluit om tenders aan te vra vir die bou van ‘n kerkgebou.

Die oorspronklike kerkgebou sou 750 sitplekke hê en aanvanklike tenders beloop ongeveer R6000 (£3000)

Daar word later besluit om die werk self aan te pak met die hulp van ‘n boumeester en hoofmesselaar, JH Schimper van Graaff-Reinet. ‘n Lening van £3000 word by die Midland Compagnie aangegaan om te help met die boukoste.

 

1905- 1908

Ds. AA Weich bedien die gemeente tydens hierdie tydperk (1890-1908) Schimper skenk die hoeksteen wat op 11 Februarie 1905 gelê is deur Mev.(Ds.) Weich. Dit was ‘n groot geleentheid na byna 27 jaar van die gemeente se bestaan. Die inskrywing op die steen lui:

“Jesus Christus, de uiterste Hoeksteen. Efese 2:20. Deze steen word gelegd op den 11 den Februari 1905 door Mev. A.A. Weich”

Kollekte wat opgeneem word tydens die hoeksteenlegging beloop £60.

‘n Dokument en ‘n aantal koerante en geskrifte word onder die hoeksteen ingemessel. Die dokument bevat ‘n kort oorsig oor die geskiedenis van die bou van die Kerk te Nieu Bethesda.

Die inwyding van die nuwe kerkgebou vind plaas op 23 Desember 1905. Die kerkgebou met meubels is opgerig vir die bedrag van £6500. Daar word met dankbaarheid verwys na die gemeentelede se bydrae met veral die vervoer en skenking van bousand, klip en bakstene. Die skuld op die gebou het op hierdie stadium £4500 beloop en dit sou vir nog baie lank stremmend op die gemeente inwerk.

‘n Weduwee van der Merwe skenk £200 vir ‘n nuwe orrel, egpaar Erlank die mosaïekstene by die hoofingang, ouderling du Toit die kroonkandelaar voor die preekstoel en Eerwaarde Bennie Pienaar die kanselbybel. ‘n Psalm en Gesangeboek vir die preekstoel is deur PJ Pienaar geskenk en egpaar van der Merwe het vier van die ses silwer kollekteborde geskenk.

Die nuwe kerkgebou was lugtig en ruim met ‘n toring van ongeveer 100 voet. In vorm het dit baie ooreengestem met die moederkerk op Graaff-Reinet, nl. een lang vleuel en twee kort syvleuels. Kiaathout deure en vensterrame is gebruik en die vensters is van gekleurde glas. Die preekstoel is ook van kiaat en is byna 3 meter hoog en rus op 6 pilaartjies. ‘n Ruim oppersaal van byna 8m by 5m is bokant die konsistorie en moederskamer ingerig.

Die kerkbanke is van eikehout en die beligtingstelsel werk met asetileengas. Drie groot kroonkandelare belig die kerk. Daar word aangetoon dat daar tussen 668 en 700 sitplekke was, maar daar word egter nie aangedui hoekom so ‘n groot kerk gebou is nie, aangesien die lidmaattal in 1905 slegs 375 was.

Ds. Weich vertrek op 1 Februarie 1908 na Jacobsdal in die Vrystaat en die gemeente is hierna vir 2 jaar sonder predikant.

 

1910-1921

‘n Moeilike tydperk vir die gemeente het voorgelê; daar was ‘n landswye droogte en die groot skuld van die kerkgebou het swaar op hulle gedruk.

Op 24 April 1910 word Ds. RJB Feenstra as predikant bevestig. Die Graaff-Reinet kerkraad besluit, nadat hulle om hulp genader is, om £100 per jaar vir drie jaar aan die gemeente te skenk.

Op 20 Junie 1914 word die nuwe orrel amptelik in gebruik geneem. Die orrel is met die inwyding bespeel deur die heer Wagner van Graaff-Reinet. Die orrel is deur Price & seun van Kaapstad gebou, het 16 registers en meer as 624 pype wat aan die voorkant versilwer is.

P. Pienaar (Span) is as eerste orreltrapper in diens geneem teen betaling van 2/6 (25 sent) per maand. Die orrel het £450 gekos en is sonder enige skuld in gebruik geneem!

In 1911 word ‘n sustentasiefonds in die lewe geroep. Die weduwee Bennie dra in 1922 £600 tot hierdie fonds by.

Op voorstel van Ds. Feenstra word ‘n koshuis vir arm kinders te Nieu Bethesda opgerig, waarin die kerkraad ‘n groot aandeel gehad het.

Tydens hierdie tydperk word een diens per maand in Engels gelei.

Die gemeentelike lykswa word in 1914 in gebruik geneem. ‘n Mev. Loots het haar vir hierdie saak beywer en geld daarvoor gekollekteer. Volgens oorlewering is dit tragies dat sy toe die eerste persoon was wat met die nuwe lykswa na haar graf gebring is.

Die lykswa was vir ‘n tyd aan die Graaff-Reinet museum geleen,maar staan vandag in die voorportaal van die kerkgebou.

Die lidmaattal was steeds aan die afneem en in 1920 was daar 270 lidmate in die gemeente.

Op 13 Junie 1921 vertrek Ds. Feenstra na Benoni.

 

1921-1927

Ds. HL Webb word in 1921 na die gemeente beroep en word op

26 November 1921 bevestig. Die kerkskuld beloop op hierdie stadium £3500, maar na slegs ‘n jaar van sy ywerige werk bedra dit £2500.

In Oktober 1922 word ‘n versoekskrif van 120 gemeentelede ontvang waarin gevra word dat een preekbeurt per Sondag in Afrikaans en die ander in Hollands gelewer word. Die versoek word eers deur die kerkraad verwerp, maar slegs 2 maande later word besluit dat daar tog in Afrikaans gepreek mag word, maar dit word in die hande van die leraar gelaat “ om te handel na goeddunke”

Die gebruik van afsonderlike kelkies met Nagmaal word goedgekeur.

Ds. Webb bedien die gemeente vir 5½ jaar en vertrek in 1927 na Warmbad.

 

1928-1930

Ds. D Lategan van de Aar word in 1928 na die gemeente beroep en word op 12 Mei 1928 as sesde leraar van die gemeente bevestig.

Die koshuis wat vir behoeftige kinders opgerig is moes ongelukkig na ‘n bestaan van 9 jaar gesluit word weens die klein getal kinders – slegs 7. Dit was egter slegs die voorspel tot die ontvolking en kwynende lidmaattal.

Op 20 November 1928 was die gemeente 50 jaar oud en word dit as ‘n feestelike geleentheid gevier. Verskeie konserte en funksies word gehou om geld in te samel om die kerkgebou se skuld te delg. Die totale som wat ingesamel is het £1800 (R3600) beloop en op 1 Julie 1929 is al die skuld op die kerk afbetaal. Die sustensasiefonds beloop ook nou £1513.

Ds. Weich rig ‘n skrywe aan die gemeente wat ook in die Kerkbode van 17. 7. 1929 gepubliseer is:

“En nou, wat was Gods doel met dit alles gewees? … God wou toon, wat Hy alles deur ‘n kleine gemeente wat aan hem gewyd was kon doen. Hy wou u tot ‘n voorbeeld vir ander gemeentes gebruik. En daarom het Hy dit so beskik dat u nie u regmatige aandeel by afstigting van die moedergemeente ontvang het nie. En daarom het Hy u nie rykdom en aardse skatte gegee nie, maar wel het Hy u gewillige harte gegee…”

 

Ds. Lategan word in 1930 benoem as professor aan die Teologiese Skool op Stellenbosch en vertrek op 15 Desember 1930 uit die gemeente.

 

1931-1945

In Mei 1931 word Ds. TI van Wyk as leraar in die gemeente bevestig.

Finansieel het die gemeente op die stadium baie swaar gekry. Die Algemene Armesorg kommissie het die gemeente jaarliks gehelp met bedrae wat gewissel het tussen £50-£100.

Die kerkraad was ook verplig om die salarisse van amptenare in sy diens met 15% te verlaag!

Die sustentasiefonds het egter gegroei sodat dit in 1942 reeds £3242 sterk was – die meul het steeds hiertoe ‘n bydrae gelewer.

Die lidmaattal het veral tydens hierdie periode geval – in 1943 was daar slegs 47 kinders in die Sondagskool. Die gemiddelde dankoffer bydrae per lidmaat was egter gereeld die hoogste of onder die hoogstes in die Ring alhoewel dit die kleinste gemeente was.

Barmhartigheidswerk is egter deur die kerkraad ondersteun en veral weeshuise en ander armesorgprojekte het daarby baat gevind.

Alhoewel daar reeds in 1924 en 1926 besluit is om afsonderlike kelkies met Nagmaal te gebruik, sou dit eers in 1932 in gebruik geneem word.

Met die verskyning van die Bybel in Afrikaans in 1933 het die Kerkraad 60 Bybels teen halfprys aan gemeentekinders verskaf.

Ds. Van Wyk aanvaar in 1945 ‘n beroep na Rietbron en verlaat die gemeente in November 1945.

 

1946-1948

Ds. JDW Strydom word na die gemeente beroep en word op 23 Februarie 1946 in die gemeente bevestig.

Die lidmaattal het nou tot slegs 190 belydende lidmate gekrimp, maar ‘n dankofferfees in 1946 lewer die mooi bedrag van  £660 op. Lidmaattalle het nou drasties begin afneem en in Junie 1947 toon die sensus dat dit na 175 gedaal het: “ die keinste blanke gemeente in die Kaapse kerk.”  Sommige lidmate woon die eredienste te Graaff-Reinet by, en die gemiddelde opkoms by oggenddienste was sowat 100. Gedurende 1947 woon slegs 35 kinders die Sondagskool by. Namate die getalle afgeneem het, het die band wat die gemeente saamgebind het hegter en hegter geword. Volgens ‘n Godsdiensverslag van 1947 word gerapporteer: “ ons getalle is klein, maar die Here gee ons die genade om saam te staan”

Dit blyk asof die gebruik om een diens per maand in Engels te hou verval het. Die kerkraad keur in 1947 ‘n versoek van die Engelsprekende gemeenskap goed om eredienste in die kerksaal te hou.

In 1948 het die sustentasiefonds tot £4000 gegroei.

 

Tennis was (en is vandag nog) ‘n gewilde tydverdryf op Nieu Bethesda. Dit het soms ‘n invloed uitgeoefen op die besluite wat deur die Kerkraad geneem is. So is op 7 Junie 1947 besluit om voorbereidingsdienste in die vervolg op Saterdagaande ipv Saterdagmiddae te hou, “ aangesien sommige lidmate tennis speel onderwyl die Voorbereidingsdiens aan die gang is, en andere weer na die diens gaan speel ..”

In Mei 1948 vertrek Ds. Strydom na Herbertsdale na slegs 2¼ diensjare.

 

1948-1952

Na ‘n vakature van 7 maande word Ds. JJH Hattingh, emeritusleraar, op Saterdag 18 Desember 1948 as leraar ontvang.

Die afname in lidmaatgetalle het sorg gewek en ‘n berig in die Kerkbode van 13 September 1950 spreek vir homself:

“ Ons pragtige en vrugbare dorpie hier naby die Kompas-berge het groot behoefte aan inwoners; oues van dae val weg, die kinders woon en werk op ander dorpe en stede. ‘n Hele aantal huise met erfgronde staan leeg. Die klimaat en waterrykheid is aantreklik en behoort nuwe mense te trek, veral waar die woningsnood elders so groot is. Hier is net die dorpie vir afgetrede mense wat pensioen trek. Stil en rustig is die lewe, en tog naby Graaff-Reinet.”

Daar was skaars 70 gesinne binne die gemeentegrense, met slegs 20 kinders wat Sondagskool bygewoon het. Dit het ook veroorsaak dat die skool gevaar geloop het om te sluit.

Tydens Ds. Hatting se bediening het die kerkraad besluit om sy eiendomsreg op die meent, die dorpsgrond, aan die munisipaliteit te verkoop. Heelwat vergaderings en besware later is die meent vir die lae prys van £3000 aan die munisipaliteit verkoop, tesame met die populierbos en Kerkhof. Die kerkraad het seggenskap oor 10 erwe asook die kerklike geboue behou. Die geld is aan die munisipaliteit geleen wat dit in paaiemente sou terugbetaal.

Nogsteeds was daar ontevredenheid onder sommige lidmate en die geskil is eers in 1957 “op broederlike wyse” besleg.

Ds. Hatting verlaat die gemeente in Februarie 1952

 

1952-1957

Proponent C van N Pretorius word in 1952 na die gemeente beroep.

Die lidmaattal het intussen drasties gedaal. In 1952 was daar slegs 163 lidmate en vyf jaar later slegs 135. Volgens ‘n Godsdiensverslag van 1954 was daar “ … ‘n mooi verhouding tussen die Afrikaanse en Engelssprekende lede van ons gemeenskap. Dit word geopenbaar in onderlinge kerkbesoek en wedersydse hulp met kerklike en sosiale funksies.”

Die sustentasiefonds beloop in 1954 £5500 plus die lening van £3000 aan die munisipaliteit.

Die kerksaal was in ‘n baie swak toestand en daar moes besluit word of hulle die ou saal sou herstel of ‘n nuwe een sou oprig.

In Julie 1957 vertrek Ds. Pretorius na Venterstad.

 

 

1958-1961

Die vakature wat met ds. Pretorius se vertrek ontstaan het, sou byna ‘n volle jaar bestaan – sewe beroepe is uitgebring, almal onsuksesvol.

Ds. CR Serfontein van Kinross neem egter die beroep aan en word in Junie 1958 bevestig. Daar was nou 130 belydende lidmate in die gemeente.

Finansieel was die gemeente sterk en die kerkraad besluit om die dankofferbydrae voortaan per koevertjie in te samel.

Lidmaatgetalle het steeds afgeneem en sy tol geëis en in 1960 is daar slegs 101 lidmate oor waarvan 42% bo die ouderdom van 60 jaar was.

In Mei 1961 vertrek Ds. Serfontein na die Sendinggemeente Barkly-oos.

 

1962-1977

Die Kerkraad was nou weens sy finansiële toestand onseker oor wat hom te doen gestaan het. Hulle kon met enige van die gemeentes van Graaff-Reinet kombineer en sou dieselfde voordele geniet as ‘n buite kombinasie. Hulle sou dan nie verplig wees om ‘n leraar te beroep nie. In Kombinasie met Graaff-Reinet sou hulle van afgetrede leraars gebruik kon maak om die geestelike arbeid in die gemeente te verrig. Die leraar van Graaff-Reinet sou as konsulent optree. Intussen is die gemeente deur ene prop. Le Roux asook ‘n teologiese student bearbei.

Ds. WC Malan, ‘n emeritusleraar is in 1962 aangestel en het die gemeente bedien tot in Februarie 1966.

Die sustentasiefonds het in 1963 R24000 beloop en sou die gemeente grootliks in stand hou.

Na DS. Malan se vertrek is ‘n emeritusleraar van Potgietersrus, Ds. JHN Prinsloo aangestel maar hy het in Januarie 1967 na Jansenville vertrek.

In Januarie 1967 is Dr. A van Schalkwyk in die gemeente ontvang en hy het die gemeente vir 4 jaar bedien.

Op 20 November 1968 vier die gemeente sy 90 ste bestaansjaar met ‘n erediens en formele dinee. In 1969 word besluit om ‘n wyksbiduurstelsel in te stel wat baie suksesvol was.

Ds. OA Cloete van Hanover word in 1971 aangestel as leraar. Die moontlikheid om met ‘n ander gemeente te kombineer is weereens ondersoek, maar omdat die gemeente eers moes ontbind, het niemand daarvoor kans gesien nie.

Die plaaslike skool moes teen die einde van 1971 sluit weens die lae leerlingtal. Daar was nou net 61 lidmate, maar die gemiddelde dankofferbydrae per lid was R127 per lidmaat.

In 1974 het die lidmaattal afgeneem tot 55 en tot 54 in 1975. Die fondse op belegging, wat hoofsaaklik die sustentasiefonds ingesluit het, het byna R27000 bedra.

Ds. Cloete het in Augustus 1977 na ses jaar in die gemeente afgetree.

 

 

Eeufeesvieringe: 16 – 17 Desember 1978

 

Ds CW Burger, leraar van Nuwekerk, was tydens die eeufeesvieringe van die gemeente die konsulent en het ook gehelp met die feesreëlings. 

Vrydagaand het die gaste byeengekom in die Kerksaal vir ‘n ete en gesellige verkeer. Verskeie persone het gepraat oor die kerklike werksaamhede soos die Sending. Kinderkrans, Vroue-sendingbond asook oor algemene werksaamhede in die dorp soos die Burgersentrum (tennisklub) en Boerevereniging. Kaartjies en telegramme van gelukwensing is voorgelees deur Ds Du Toit. Onder die gaste was Ds Johannes van Wyk en sy broer Tobie, seuns van Ds TT van Wyk wat die gemeente bedien het van 1931-1945.

Op 16 Desember neem Ds OA Cloete die Geloftedagdiens waar.

Op Sondagoggend word die Nagmaal bedien deur Ds JS Gericke en ook teenwoordig was Ds OA Cloete, DS CR Serfontein, Ds WJ van der Merwe en Reverend Nap Kok van die Metodiste gemeente in Graaff-Reinet. Na die nagmaalsdiens wat deur 170 mense bygewoon is, is middagete by die Burgersentrum bedien.

Om 4nm op Sondag het ‘n kranslegging by die begraafplaas plaasgevind, waartydens kranse op familielede, asook op die grafte van die ouers van die dorp gelê is.

Ds Kobus van der Merwe het die aanddiens waargeneem en die gasligte van die kerk is aangesteek met die hulp van Kol. Gerry van der Merwe.

 

1978-1980

In 1978 word besluit om Ds Paul van Heerden, ‘n emeritusleraar te beroep, maar hy is nie beskikbaar nie. Die moontlikheid om in kombinasie te gaan met een van die Graaff-Reinet gemeentes word ondersoek en in Mei 1978 in beginsel goedgekeur om met Nuwekerk in kombinasie te gaan. Daar word egter besluit om ‘n jaar te wag voordat die kontrak geteken word.

In November 1978 word die lykswa teruggehaal vanaf die museum in Graaff-Reinet deur broer S du T. Pienaar en nog ‘n tragiese feit is dat toe hy in 1985 oorlede is, sy lyk die die eerste was wat weer deur die lykswa vervoer is.

Ds CW Burger tree as konsulent op in hierdie tyd en word later in November 1979 deur Ds PL Moolman opgevolg.

 

1980-1981

Ds JAC Scholtz, ‘n emeritus prediker bedien die gemeente vanaf 1980 tot  Oktober 1981. In hierdie tyd word daar ook die eerste keer aansoek gedoen om ‘n dranklisensie in die dorp. Die Kerkraad was baie ontevrede omdat hulle geen kennis ontvang het van dié aansoek vanaf die Kerk se algemene kommissie vir Aktuele sake nie. Die aansoek kon gevolglik nie betyds bestry word nie. Daar word egter vanaf die kansel afgekondig dat die kerkraad die opening van ‘n drankwinkel afkeur.

 

1982-1990

Ds WJ du Toit tree op as konsulent in 1982 en later ook Ds DA (Danny) Fourie.

Gesamentlike dienste met die Metodiste kerk in Graaff-Reinet word voorgestel om een maal elke 2 maande plaas te vind.

In 1983 tree Ds BP Fourie op as konsulent en ‘n emeritusleraar Dr HW de Jager word aangestel, maar verlaat diens in Mei 1984. Proponent Bas Peters neem die Pinksterdienste waar in 1985, maar bly slegs ‘n kort rukkie totdat hy ‘n beroep na Rietbron ontvang.

In 1985 tree Ds SW Theart op as konsulent. In Februarie 1986 word matte in die kerk gelê wat die ou linoleum vervang. Gedurende 1986 word ‘n program op SAUK TV uitgesaai, oor die dorp en Boedhiste in die omgewing. Die kerkraad besluit om beswaar aan te teken teen die inhoud van die program en ‘n brief wat hul besware aandui, word aan die SAUK gestuur.

Gedurende 1986 word daar ook heelwat fondse bestee om die buitekant van die Kerksaal te herstel.

In Mei 1986 word besluit om ‘n samewerkingsooreenkoms met Grootkerk, Graaff-Reinet aan te gaan vir ‘n tydperk van drie jaar. Op 1 Oktober 1986 tree dié ooreenkoms in werking.

In 1989 word fondse geskenk aan die boufonds van die NG Sendingkerk, later word ligte geïnstalleer en ook fondse vir die vloere geskenk.

In November 1989 word die kontrak met Grootkerk weer goedgekeur en verleng vir ‘n verdere 3 jaar.

In hierdie tyd word die gemeente deur al die leraars van Grootkerk bedien.

 

1991-2000

In Mei 1991 vra die munisipaliteit toestemming om die kerksaal aan te koop, maar dit word afgekeur. In Julie 1992 kry hulle egter toestemming om die administratiewe regte van die kerksaal oor te neem.

Ds JW Esterhuizen tree op as konsulent in 1992, Ds M van Niekerk in 1993.

Ds Theart verlaat Grootkerk in 1993 en Ds Ben Fourie vertrek in 1994.

In 1994 word ‘n elektroniese motor vir die orrel geïnstalleer en so brek die einde van ‘n era van orrrelpompers aan.

In 1994 tree Ds J Conradie op as konsulent en Ds L Venter in 1995.

Die preekstoel word baie min gebruik en ‘n luidsprekerstelsel word in 1996 in die kerk geïnstalleer.

Die groot sipresbome voor die kerk word afgesaag aangesien baie van hulle gevrek het weens ‘n luisinfestasie. Daar word ook in 1996 besluit om die pastorie te bedraad vir elektrisiteit.

In November 1998 word die tuin van die kerk verander en gemeentelede werk saam om rose rondom die kerk aan te plant.

Daar word in 1998 voorgestel dat ‘n inligtingspamflet wat ‘n kort geskiedenis van die kerk bevat, aan toeriste beskikbaar gestel word. Dit het egter nooit gerealiseer nie.

In Februarie 1999 word deur die kerkraad voorgestel dat kindernagmaal ingestel word en dit word in Augustus dieselfde jaar geïmplementeer.

‘n Baie suksesvolle Ringsitting vind ook in Nieu Bethesda plaas gedurende September 1999.

 

2001-2004

Die samewerkingsooreenkoms met Grootkerk word weer in Maart 2001 hernu. ‘n Brief van Mev. H van Wyk word ook in hierdie tyd ontvang waarin sy vra om of die pastorie of kerksaal aan te koop. Die saak word na die gemeente verwys vir toestemming, maar aangesien ‘n volstrekte meerderheid nie ten gunste van die verkoop is nie, word dit afgekeur. In September word die saak van die verkoop van die pastorie hersien en weer na die gemeente verwys vir ‘n stemming. Hierdie keer stem meer as tweerderdes van die gemeente ten gunste van die verkoop en word die pastorie aan Mev H van Wyk verkoop vir die bedrag van R300 000,00.

Nie lank hierna nie word ‘n ander aanbod ontvang vir die aankoop van die kerksaal – die kerkraad stem voorwaardelik in, maar ‘n gemeentestemming word weer gehou. Nadat goedkeuring vanaf die gemeente ontvang is, word besluit om die kerksaal op ‘n tenderbasis te verkoop. So word ook die kerksaal in 2002 verkoop aan I Alleman vir die bedrag van R215 000,00.

 

Tydens 2002 word tenders aangevra vir die herstel van die kerkvensters wat heelwat wind- en weerskade opgedoen het, en word dit volledig herstel.

Die kerkraad besluit ook om van die fondse wat met die verkoop van die Pastorie en kerksaal verkry is, is aan te wend om die Kerkgebou buite te verf en herstel. Die orrel word ook volledig skoongemaak en herstel. Die restant van die bedrag word belê en daar word besluit om die rente-inkomste aan te wend vir diens van barmhartigheid.

In Augustus  2002 word die meubels van die Pastorie en die inhoud van die Kerksaal per veiling verkoop.

Twee spuitfonteine word in Maart 2003 aan die voorkant van die Kerkgebou aangebring, asook ‘n spreilig om die kerk in die aand te verlig.

 

Vroeg in 2004 word die gemeente en gemeenskap geruk deur die wrede moord op Mev. Elmarie (Emmie) Wolfaardt, asook die aanval op haar man,

Sakkie Wolfaardt, op hulle plaas Dorsfontein. Die gemeente sal hulle altyd onthou as twee van ons staatmaker gemeentelede.

 

Met die vertrek van Ds J Conradie na Kemptonpark in 2004, verval die samewerkingsooreenkoms met die Grootkerk. Daar word ‘n nuwe ooreenkoms aangegaan en slegs Pastorale bediening word aan die gemeente verskaf.  Alle predikers wat Sondae in Nieu Bethesda preek, sal afsonderlik deur Nieu Bethesda gemeente vergoed word.  Dit lei ‘n tydperk in waar meer van interdenominale predikers gebruik gemaak word.

 

Die toekoms van die gemeente is onseker – soos lank reeds die geval, maar almal glo dat God na 127 jaar van die gemeente se bestaan, wel ‘n doel het met sy voortbestaan.

 

 

Werk in u gemeente, Here

Vader, Seun en Heil’ge Gees –

reinig ons deur u genade,

laat ons offers heilig wees;

U is heilig, maak óns heilig

Deur die werking van u Gees

 

                                                     (Lied 475:2 - Liedboek van die Kerk)

Bronnelys:

 

1.    Die Geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk Nieu Bethesda

1878-1978 – ‘n Eeu van Genade: EGJ de G Schutte

2.    Kerkraad van Nieu Bethesda:

Notules: 1910-1951

Notules: 1951-1978

Notules: 1978-2004

Interessante feite:

 

·        Vanaf 1951 het daar altyd ‘n Wolfaardt of ‘n Pienaar op die Kerkraad gedien. Daar was slegs 2 jaar wat daar nie ‘n Pienaar op die Kerkraad was nie, nl. 1998 en 2002 en 5 jaar wat geen Wolfaardt gedien het nie, nl. In 1953, 1958, 1982, 1996 en 2001* Tans is daar 8 kerkraadslede waarvan 4 Pienaars en 2 Wolfaardts is.

 

*Statistiek huidiglik beskikbaar slegs vanaf 1951

 

bullet

Ons huidige orreliste, Mev. Elise Pienaar is al vanaf 1978 in diens – dus 26 jaar – en het nog nooit verlof geneem nie.

 

bullet

Die belydende lidmaattal beloop tans 44 waarvan 13 Pienaars en 10 Wolfaardts is.

 

bullet

44% (21) van die lidmaattal is ouer as 50 jaar en 23% (10) is studente wat voltyds elders studeer.

 

bullet

Daar is huidiglik slegs 10 dooplidmate in die gemeente (kinders jonger as 17 jaar)

 

bullet

Die grense van die gemeente loop vanaf Kareelaagte in die ooste, vanaf Pampoenfontein in die noorde (Middelburg kant), Damesfontein in die weste en Steilkrantz en Dorsfontein (Graaff-Reinet kant) aan die suide. 

 

bullet

Die sustentasie fonds is in 1911 in die lewe geroep met 600 pond, dit staan nou bekend as die reparasiefonds en beloop meer as R100 000

 

bullet

Die gemeente dra jaarliks meer as R100 per lidmaat by tot Bybelverspreiding

 

bullet

Die gemeente se sinodale bydrae per lidmaat is ook van die hoogste in die Ring.

 

 

Terug na NG Kerk

Tuisblad